Deur Zukile Majova
President Cyril Ramaphosa het ‘n nuwe kopseer: waar posisioneer mens vir Paul Mashatile, wat verlede maand tot ANC-adjunkpresident verkies is?
Dit word algemeen aanvaar dat niemand in die Ramaphosa-kamp vir Mashatile in ‘n magtige posisie soos adjunkpresident van die land wil sien nie. Vir die oomblik beklee DD Mabuza nog daardie pos.
’n Adjunkpresident tree in as waarnemende president wanneer die president weg is of uit sy amp onthef word.
Dit is nie ‘n probleem wat Ramaphosa opsy kan skuif nie, want hy maak gereed vir ‘n groot kabinetsherskommeling binne die volgende paar weke.
Mashatile se oorwinning by die 55ste nasionale konferensie was beklink deur Ramaphosa se besluiteloosheid.
Ramaphosa het sy twee bondgenote, Ronald Lamola en Oscar Mabuyane, toegelaat om die pos van adjunkpresident te betwis.
Dit het konferensie-afgevaardigdes verdeel en die gevolg was Mashatile se oorwinning.
Nou is die vraag: hoe raak mens van hom ontslae, en hoe word sy mag beperk?
Daar is nie veel opsies aan Ramaphosa beskikbaar nie, behalwe die wetlike voorskrif dat die adjunkpresident ‘n parlementslid moet wees, en vanuit LP’s verkies moet word.
Bronne na aan Mashatile het vandeesweek aan Scrolla.Africa gesê die leier van die sogenaamde Alex Mafia is daarop uit om adjunkpresident, en uiteindelik president van die land te word.
Die oortuiging bestaan ook dat Ramaphosa se Phala Phala-skandaal te bonkig is om onder die mat in te vee, en dalk net daardie laaste strooi mag wees wat die kameel se rug gaan breek.
Lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het vandeesweek gesê hulle verwag dat die NUK se 87 lede sal vergader om name te bespreek van ministers en adjunkministers wat na die kabinet ontplooi sal word.
Ramaphosa is ‘n aanhanger daarvan om deur konsensus te lei, en sal na verwagting nie daarop aandring om sy eie kabinet aan te stel nie.
Om mee te begin sit Mashatile – eens verbind aan die berugte Alex Vernuwingsprojek, waarin ‘n geraamde R1.6 miljard verdwyn het – nou sonder ‘n klad op sy naam, met geen onlangse korrupsieskandale nie.
As adjunkpresident van die ANC het die invloedryke posisie van voorsitter van die ANC-ontplooiingskomitee ook in Mashatile se skoot geval.
Dit is die komitee wat kandidate aanbeveel vir aanstelling in regeringsposte.
Mashatile poog reeds om Mondli Gungubele, Minister in die Presidensie, te vervang met die voormalige Gautengse premier, David Makhura.
Die ondergenoemde posisies mag ook deur die komende kabinetskommeling geraak word:
• Openbare Ondernemings – Minister Pravin Gordhan [polities gekompromitteer by konferensie en met swak gesondheid].
• Samewerkende Regering en Tradisionele Sake – Minister Nkosazana Dlamini Zuma [politieke uitval met die president].
• Toerisme – Minister Lindiwe Sisulu [politieke uitval met die president]
• Staatsdiens en Administrasie – Minister Ayanda Dlodlo [pos vakant nadat Dlodlo by die Wêreldbank aanbeveel is].
• Vervoer – Minister Fikile Mbalula [pos vakant nadat Mbalula tot sekretaris van die ANC verkies is].
Op die ou end sal die moeilikste besluit vir Ramaphosa wees of hy Mashatile gaan toelaat om van binne sy tent af buitentoe te piepie, of van buite af binnetoe.
Op die foto hierbo: ANC-adjunkpresident Paul Mashatile
Fotobron: @OfficialNtokozo