Die wynlandgoed Vergenoegd Löw, aan die voet van die Helderberg-reeks op die Stellenbosse wynroete, het eende as soldate opgeroep om die wingerde daar op te pas.
’n Swerm van ongeveer 500 bruin, wit en swart eende patrolleer die wingerde en jag slakke en goggas op die wynlandgoed, wat uit 1696 dateer.
Hierdie Indiese loop-eende doen diens as natuurlike pesbestryders.
Corius Visser, die landgoed-bestuurder, het aan Reuters gesê hulle verwys na die eende as hulle soldaatjies.
Een van die eende staan aan die hoof van die swerm en lei hulle deur die plaas. Soos wafferse soldate volg die eende hulle leier en marsjeer in ’n konvooi deur die wingerde.
Merle Holdsworth, ’n toeris, het gesê: “Ek is is verwonderd deur die eende se goeie maniere. Dis asof hulle in die weermag is.”
Die eende volg ’n daaglikse roetine. Soggens gaan hulle na die wingerde toe om skade aan die oes te verhinder, en saans gaan hulle terug om aan voedsame koskorreltjies te pik.
’n Plaaswerker, Yodell Scholtz, maak die eende die afgelope twee jaar groot.
“Dis amper soos om mens se eie kinders groot te maak, so ek geniet dit baie,” sê hy.
Saamgestel deur Mashudu Mabila
In die foto hierbo: Die eendkommando in die wingerd
Fotobron: Reuters