Zukile Majova
Mnr Razzmatazz is uiteraard nie almal se nommer een nie.
Hy is as ‘n mislukking beskou tydens sy termyne as Minister van Vervoer en Adjunkminister van Polisie.
Hy het drie jaar lank ledig die ander pad gekyk terwyl skelm vragmotorbestuurders lorries en hul vragte op die N1 en N3 gekaap en aan die brand gesteek het, en die afdanking van buitelandse bestuurders geëis het.
Met hom aan die stuur het spoorweginfrastruktuur uitmekaargeval, wat daartoe gelei het dat die twitterati sy “Mnr Fixit” bynaam in ‘n immergroen grap omskep het.
Opposisiepartye onderskat hom egter op eie risko.
Die nuwe ANC-hoofsekretaris, Fikile Mbalula, het nou uiteindelik die pos wat altyd vir hom beskore was. Hy is ‘n meester in die samestelling van ANC-grondmagte.
Mbalula kom tot sy reg wanneer hy binne die regerende party-masjinerie werk.
Hy is ‘n massamobiliseringstrateeg en meestertaktikus.
In die afgelope paar jaar het die ANC verkiesings verloor grootliks omdat sy lede op tak- en streeksvlak nie opgestaan het om vir die party te baklei nie.
Faksiegevegte het party-eenheid verbreek en die ANC tydens tussenverkiesings gesaboteer. Mbalula lui ‘n rigtingsverandering in.
Sy vermoë om hom by verskillende faksies in die ANC tuis te maak, behoort opposisiepartye slapelose nagte te gee.
Ná sy verkiesing het hy dadelik tot aksie oorgegaan deur die ANC-tak te besoek in Mzala Nxumalo, in die noorde van KwaZulu-Natal, nadat ‘n ongeluk die lewens geëis het van lede op pad terug van die ANC se 55ste konferensie in Nasrec af.
Hy het dit gedoen al het die streek openlik gestem teen hom – en teen die kieslys onder leiding van President Cyril Ramaphosa.
Met hom aan die stuur in Luthuli Huis sal die ANC elke wyk en elke tussenverkiesing betwis.
Algemeen bekend onder die jeug as Mbaweezy, word daar van hom verwag om met die EFF te kompeteer vir die harte en grysstof van jong swart kiesers.
As Ramaphosa se nuwe veghond sal Mbalula na verwagting kopstamp met die president se teenstanders, wat openlik versoek het dat hy uit sy amp herroep word.
Mbalula het reeds die leviete voorgelees aan LP’s wat die partylyn uitgedaag het tydens ‘n stemming in die parlement.
“As jy jou eie gewete wil hê, maak dan jou eie politieke party oop, nie hier nie. Hier is dit sentraal demokraties en die middelpunt moet hou. Of jy daarvan hou of nie, die middelpunt moet hou,” het Mabalula ná die ANC-konferensie in Desember gesê.
Mbalula was immerbelangrik in Thabo Mbeki se verkryging van ‘n tweede termyn, het ‘n sleutelrol gespeel in die opkoms van Jacob Zuma, en het Ramaphosa onlangs gehelp om ‘n tweede termyn te verseker ondanks die Phala Phala Plaas-roofskandaal.
Op die foto hierbo: President Cyril Ramaphosa in gesprek met Fiklle Mbalula
Beeldbron: @ Marvel Hlungwani