LAATVAT MET LUCKY: Die Protea-krieketspan se gewilligheid om te verloor is ‘n wrange herinnering dat geen wenspan sonder ‘n wenadministrasie kan oorleef nie, skryf Lucky Maree.
Die Proteas het baie slegter gevaar as om net die tweede kriekettoets teen Australië in Melbourne einde Desember te verloor – hulle het eenvoudig oorgegee.
Hul telling van 189 in die eerste beurt het moedige pogings van Kyle Verryne (52) en Marco Jansen (59) ingesluit, maar albei spelers moes uiteindelik die aftog blaas teen die onstuitbare Cameron Green. Die laaste vier Proteas het slegs vir 21 balle kon vasklou en het altesaam ‘n skamele nege lopies aangeteken.
Mens kon daarmee wegkom om net af en toe na die TV-skerm te kyk terwyl die Proteas soos zombies in ‘n apokalipsfliek hul passies uitgetrap het. (Gelukkig was dit lekker braaiweer in Suid-Afrika.)
Aussie-kolwers het die Suid-Afrikaanse boulers uitmekaargeslaan en drie halfhonderdtalle aangeteken, met David Warner wat ‘n dubbele honderdtal behaal en Alex Carey wat 111 lopies gekry het.
Noemenswaardig is die Protea-kolwers se brawe terugbaklei in die tweede beurt se doodsnikke, self met die eindtelling ‘n uitgemaakte saak – maar verloor is daar verloor. Temba Bavuma, wat sy beeld ietwat verbeter het met 65 lopies nadat hy een enkele lopie in die eerste beurt aangeteken het, het uiteindelik uitgegaan na die onverskillige klap van ‘n bal geboul deur Nathan Lyon. Dit het gelyk of hy alle belangstelling verloor het.
So hoe gebeur dit dat Suid-Afrika platgemoker is (en moker is die regte woord) tydens hul laaste vier toetswedstryde?
Almal weet van die probleme wat Suid-Afrikaanse krieket ondervind. Daar sal nie ‘n deurlopend suksesvolle span op die veld wees voordat ons krieketadministrateurs ‘n blywende oplossing vir die politiek van Suid-Afrikaanse krieket op raadsaalvlak vind nie.
Dit is hoekom, of jy hom nou hoog ag of haat, Rassie Erasmus meeste van die krediet verdien vir sy rol om die Springbokke tot ‘n Wêreldbeker-wen te lei.
Toe hy aanvanklik by Suid-Afrikaanse rugby betrokke geraak het, het hy die raadsaalprobleme tromp-op geloop. En dit was sy heel eerste prioriteit.
Dit is moeilik om die dae te onthou toe mense gewonder het of Siya Kolisi ‘n politieke aanstelling was. Toe die Springbokke in November teen Engeland op Twickenham se veld was, het net die mees geharde liefhebbers van die lank uitgeleefte kwotastelsel, nog ‘n rassekoptelling gedoen.
Wen of verloor, die Springbokke gee nie oor nie.
En nou, vier jaar later, is die Bokke dalk nie die gunstelinge vir die Wêreldbeker nie, maar is wel in die wedloop om die beker weer huis toe te bring. En as hulle dit nie doen nie, weet ons dat hul skoppend en skreeuend sal veg tot die finale eindfluitjie.
Daar is ‘n lessie te leer vir die senior bestuur van Suid-Afrikaanse krieket.
Los eers die probleme van bo na onder op, en kyk sommer lank en hard in die spieël ook. Daarna kan die spelers ingesleep word. Dit is wanneer krieketondersteuners baie meer skop en skree van die Proteas op die veld sal ervaar. Suid-Afrika verdien niks minder nie.
Op die foto hierbo: Die Proteas in aksie teen Australië
Beeldbron: @ProteasMenCSA