Lungani Zungu
Johannesburg se misdaadbekampingsveldtog vir die feesseisoen mag van koers af wees nadat motorverhuringsmaatskappy Avis meer as 2,500 van die stad se voertuie gekonfiskeer het.
Nie net metropolisiemotors nie, maar ook City Power-vragmotors en munisipale waterbakkies is Woensdag weggeneem, wat diensverskaffing aan die stad se ses miljoen inwoners in wanorde dompel.
McKinnely Mitchell, wat praat namens burgemeesterskomiteelid vir Groep Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Leah Knott, het die beslaglegging van die vloot in ‘n verklaring bevestig.
Die vloot is gekonfiskeer nadat die Nasionale Tesourie ‘n tender wat in 2020 aan Avis en Afrirent toegeken is, uitgelig het. Dis as onreëlmatig verklaar en die stad is beveel om dit te kanselleer.
“Ons het hierdie gemors van die ANC geërf: ‘n onreëlmatige kontrak was voortdurend hernu sonder dat daar ooit ‘n ondersoek gedoen is,” het Mitchell gesê.
Na verneem word is die omstrede vloottender – ter waarde van meer as R2 miljard – teen einde Oktober deur die DA-geleide veelparty-regering beëindig.
Die ANC se veelpartyregering het aan die raad voorgestel dat die vloot in plek bly totdat ondersoeke afgehandel is. Maar die magsbalans het kort daarna verskuif, en die DA se veelpartyregering het Tesourie se instruksies gevolg.
Die stad het ‘n ondersoek van stapel gestuur om vas te stel of Afrirent enige betalings aan politici gemaak het, aldus Mitchell.
“Dis na ‘n vinnige blik oor die syfers duidelik dat die stad nie waarde vir geld kry nie.”
Die tenders vir brandweerwaens (rooi vloot) en die Pikitup-afvalbestuursvloot was apart en word dus nie ontwrig nie.
Burgemeesterskomiteelid van Openbare Veiligheid, David Tembe, het aan Scrolla.Africa gesê hy vertrou dat dit nie die stad se misdaadvoorkomingsveldtog sal lamlê nie.
“Ons sal voortgaan om die veiligheid van Johannesburg se inwoners te prioritiseer. Die stadsamptenare hanteer hierdie saak.
“Vanuit ons oogpunt as Openbare Veiligheid is ons op koers om die stad se wetlike raamwerk te beskerm en versterk.”
Die Stad Johannesburg was midde-in ‘n toutrekkery tussen koalisieregerings, een onder leiding van die DA, die ander onder leiding van die ANC.
Leier van die ANC in Johannesburg en voormalige burgemeester, Dada Morero, het beweer dat die DA-geleide veelparty-regering se versuim om vir dienste te betaal, die beslaglegging veroorsaak het.
Hierbo: Meer as 2,500 voertuie van die Stad Johannesburg is gekonfiskeer
Bron: @MayorDadaMorero