BREKENDE NUUS: VERDAGTE KRUGERSDORP VERKRAGTERS VRY

By Everson Luhanga

Al 14 verdagtes, wie in hegtenis geneem is vir die verkragting van ‘n filmspan in Krugersdorp op 28 Julie, is vrygelaat.  

DNS-toetsresultate wat vroeër die week bekend gemaak is kon nie een van die 14 gearresteerde mans met die misdaad verbind nie.

Scrolla.Africa was eerste om te rapporteer toe agt vroulike lede van ‘n filmspan deur ‘n bende verkrag en beroof is terwyl hulle aan’t skiet was by ‘n verlate mynskag in Krugersdorp aan die Wes-Rand.

Die vroue was deel van ‘n 22-sterk groep (12 vrouens en 10 mans) wat na bewering aangeval is deur ‘n groep gewapende mans wat in komberse gehul was.  

Mzansi se hoop, dat geregtigheid vir die mishandelde vroue sou seëvier, is vir eers verpletter. Die soektog na die regte verkragters begin dus nou opnuut, drie maande nadat die misdade gepleeg is. 

‘n 14-Jarige verdagte het op Woensdag 26 Oktober in die Krugersdorp Magistraatshof verskyn.  

Hy is teruggeneem na die Walter Sisulu Jeugsentrum toe. Hy was veronderstel om op Donderdag 27 Oktober saam met sy mede-aangeklaagdes in die hof verskyn, maar geen saak kon teen hulle gemaak word nie.  

Die 14 verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle deur die slagoffers uitgewys is tydens ‘n identiteitsparade.

‘n Identiteitsparade sou waarskynlik nie die saak beslis het nie, aangesien die groep van 20 mans wat die filmspan aangeval het, komberse gedra en hul gesigte met klapmusse bedek het.

Die polisie se ondersoek was totaal afhanklik van DNS-uitslae wat die misdaad met die verdagte mans sou kon verbind.

Op Donderdag 27 Oktober is al 14 verdagtes vrygespreek van verkragting en roof aanklagte in die Krugersdorp Magistraatshof, omdat nie die identiteitsparade of DNS-toetse hulle met die misdade kon verbind nie. 

Nadat nuus van die misdaad versprei is, het polisie en ander wetstoepassingseenhede op die Wes-Rand neergedaal in ‘n massa-poging om die oortreders aan te keer. Honderde mense is in hegtenis geneem – grotendeels mans wat zamazamas (onwettige myne) bedryf. 

Die gemeenskap van Kagiso en ander dele van die Wes-Rand het die wet in eie hande geneem en die zamazamas gejag. Hulle is aangekeer en aan die polisie oorhandig.  

Tussen die honderde gearresteerde zamazamas was 14 mense, insluitend een minderjarige, uitgewys as skuldig aan die gruwelike misdade. Hulle was in aanhouding sedert hul inhegtenisneming.

Volgens bronne wat anoniem met Scrolla.Africa gepraat het, was die mans uitgeken tussen die skare wat identiteitsparades ondergaan het.  

Sedert die mans in die hof verskyn het kon geen perslui of lid van die publiek die oë op hul lê in die hofbanke nie.  Daar is aangevoer dat identiteitsparades steeds uitgevoer word, en dat geen foto’s aan die publiek uitgereik kon word nie.

Politici wat die hofsaak in Krugersdorp op 28 September bygewoon het ter ondersteuning van die slagoffers was woedend toe hul nie in die hof toegelaat is tydens die verdagtes se verskyning nie. 

Aldus Adjunk Sekretaris-generaal van die Economic Freedom Fighters, Poppy Mailola, sou die EFF die NVG se besluit om nie die pers en publiek in die hof toe te laat nie, skriftelik bevraagteken.

Intussen het ses van die sewe vrouens die veilige hawe waar hul behuis is verlaat, aangesien hul glo nie goed versorg is deur polisie beamptes nie. Sewe van die agt verkragte vroue kon hier versorg word. Een het glad nie opgedaag nie. Tans word slegs een van die sewe vroue steeds hier gehuisves.

Foto: SAPS